"Al het Eron die vraag nie verwag nie, het hy nie geweifel nie, hy het geweet. Dit was iets wat al 'n geruime tyd in hom broei. Sedert die dogtertjie Amber in die woestyn gesê het daar is baie Bergengele en Oupa Oerson haar woorde in die woud herhaal het, het die gedagte in hom bly groei: 'Ek sien Bergengele. Elkeen wat vandag hier sit, het sienkrag. Elkeen het die vermoë om verder en vooruit te kyk tot in die siel en gees van die mens en dier – ja, ook jy, Kornelius. Ons moet Ma terugbring. Ons moet Talia in die oë kyk en self by haar hoor of sy 'n aandeel in die Veroweraars het. Ons moet die Regiohoofde onder een dak kry en saam 'n meesterplan beraam vir die pad vorentoe. Een Bergengel alleen gaan die Uitdooftyd nie keer nie.'"